Wat is my wild werd? Dít is ’n vraag wat die laaste tyd gereeld opduik.
Ongeveer 12 maande gelede was daar baie verwarring om te kon bepaal wat ’n bok werd is omrede te veel diere in die algemeen geklassifiseer is as skaarsspesies, en as gevolg van die skaarsspesies-titel wat ’n werklikheid was, het vraag-en-aanbod, soos in enige kapitalistiese stelsel, die pryse gedryf.
Soos wat dit in alle fasette van landbou gaan, het die Suid-Afrikaanse boer die vermoë om, ten spyte van al die uitdagings, diere te kan vermeerder. Só is die swartwitpens, bastergemsbok, ens. nie net gered van totale uitwissing nie, maar is die getalle in só ’n mate vermeerder dat daar nou na herklassifikasie van die term ‘skaars’ gekyk moet word. Pryse het intussen, ná ’n daling, gestabiliseer…
