Wintergroente wil volson hê, en dit kan te veel gevra wees in klein of hoëdigtheidseiendomme. As jy egter so ʼn lappie het of ʼn plan met houers kan maak, hoekom nie ʼn pragtige en produktiewe plek skep deur eetbare winterblomme of dié wat as metgeselplante kan dien, by te sit nie?
Die blomme wat onmiddellik by ʼn mens opkom, is gesiggies, viooltjies, gousblomme en kappertjies, maar daar is vele meer. Koringblomme, angeliere en papawers verskaf byvoorbeeld nektar vir bye, kamille bevorder groei, laventel en petunias is plaagweerders, en ander blomme met eetbare kroonblare sluit in roosmalva, Bellis perennis (Engelse madeliefie) en leeubekkies. Wees ook op die uitkyk na daglengteneutrale sonneblomme wat in reusesaadpakke te kry is. Dit duur dalk ʼn bietjie langer vir hulle om te ontkiem, maar hulle lok…
