Hierdie heldergeelblommige lid van die madeliefiefamilie (Asteraceae) is baie goed bekend onder sy ou naam, Chrysanthemoides monilifera, en het baie volksname, waaronder bietou, boetabessie, bosluisbessie, bokbessie en skilpadkos.
Buiten sy spoggerige blomtrosse is dit ook bekend vir sy eetbare blinkswart bessies. Die bietou is ʼn veelvormige en wydspreidende plant wat ʼn klein tot middelgroot spreidende struik van tot 2 m hoog en 2,5 m wyd word. Dit word algemeen aangetref langs kusduine in die winterreënstreek van Namakwaland en die Wes-Kaap, het ʼn veel wyer verspreiding in die somerreenstreek van die Oos-Kaap en die binneland in tot in die baie hoe gebiede van KwaZulu-Natal, Eswatini (Swaziland) en Mpumalanga, en strek noordwaarts tot in tropiese Afrika. Die struike het ligte tot diepgroen ovaalvormige blare met harde, effens getande rande, en die jong…