Die Natalse rooipluim, wat in Engels as Natal red top of Natal grass bekend is, is ʼn baie treffende een of tweejarige in die grasfamilie Poaceae. Die genus Melinis, wat afgelei is van die Latyn “mel” wat heuning beteken, is beskrywend van die soet, stroopagtige geur wat deur sekere lede van hierdie genus afgegee word, en die soortnaam “repens”, die Latyn vir kruipend, verwys na die kruipende aard van die basis van die halms wat wortelskiet as hulle aan die grond raak.
Die Natalse rooipluim is wydversprei in KwaZulu-Natal en kom ook in die ander provinsies van Suid-Afrika voor, waaronder die Wes-Kaap, waar dit genaturaliseer geraak het. Dit word ook aangetref in Lesotho, Swaziland, Namibië, Botswana en Mosambiek, en verder noord en ooswaarts tot in die Arabiese Skiereiland, die Seychelle…