Die Kaapse vlakte-erika Erica verticillata wat endemies in die winterklam sandgrond van die Kaapse Vlakte oos van Kaapstad voorgekom het, is die laaste keer in die vroeë 1900’s in die natuur opgemerk. Weens snelle stedelike, nywerheids- en landbou-uitbreiding is dit in sy natuurlike omgewing uitgewis, maar gelukkig was dit reeds in talle tuine gevestig, waaronder Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin, Proteapark in Pretoria, Belvedere-paleis in Oostenryk, verskeie plekke in Engeland, waaronder die Kew-tuin, en in Duitsland en die VSA. ʼn Projek onder leiding van Anthony Hitchcock, bestuurder van die Kirstenbosch-kwekery, Lewende Versamelings en Bedreigde Plante, het tot gevolg gehad dat Kirstenbosch steggies, wat elk effens volgens groeiwyse, hoogte en blomkleur verskil, uit hierdie bronne bekom, daar vermeerder en aan die publiek beskikbaar gestel het. Boonop is verskeie van hierdie vorms suksesvol…
